Uit Rou Gebore: My Pad Terug na Kuns When Colour Found Me Again
- Rodé de Jager
- Feb 4
- 5 min read
Updated: Feb 10

Waar begin ’n mens? Waar begin ’n mens om in ’n paar paragrawe te probeer verduidelik hoe die afgelope drie jaar jou lewe verander het?
Met alles wat ek die afgelope tyd beleef het, het daar in my ’n diep sensitiwiteit vir ander se seer en verlies gegroei.
Daarom hierdie sagte disclaimer: as jy self deur siekte, verlies of trauma gegaan het, lees asseblief met sagtheid vir jouself – of gee jouself die vryheid om hierdie te los. Ons senuweestelsel onthou meer as wat ons besef. Dit onthou trauma, verlies en swaar tye. Ek wil niemand se wonde oopkrap nie, maar ek wil eerlik my storie deel. Veral die storie agter my kuns – en hoekom ek ná vyftien jaar weer begin skilder het.
Ek was nog altyd kunstig op skool. In Graad 10 het ek begin besef dat die Here my met ’n gawe geseën het. My medium was charcoal, en my tema was nog altyd Afrika en kinders. My kunsonderwyser, meneer Scholtz, was ’n sagte man wat my fondasie met soveel wysheid help bou het. In matriek was Information Design by die Kunsfakulteit op Tukkies my eerste keuse. As jy my beter leer ken, sal jy gou agterkom ek het drie uiteenlopende liefdes: kuns, teologie en politiek. Hoe dit alles saamkom, weet ek self nie heeltemal nie. Of ek was oppad om ’n Helen Zille te word, of dalk ’n Art Director vir ’n tydskrif.
Soos baie eerstejaars het ek TUKS voluit geniet – ongelukkig ten koste van my kunsstudies. Op 17 het ek ’n roeping na die bediening ervaar. My lewenspad was vol draaie. Ek het eers by die Kunsfakulteit uitgeklim, by die DA Jeugliga aangesluit, nie gekeur nie – en toe uiteindelik Teologie op Stellenbosch gaan studeer, in die spore van my oupa Chris, Oupa Grootjie Fred en die sendelinge-roeping in ons familie.
In my derde jaar in die Teologiese Fakulteit het Jesus sy verlore skapie werklik kom haal. Ek het toegewy begin leef vir Hom en Sy wil vir my lewe. Ek het selde klas geloop – ek was altyd beter met lees as luister. Ek kon ure lank lees en byna fotografies onthou. My dosente was nie juis mal daaroor nie, maar deur genade het ek my Honneursgraad in Nuwe Testament Teologie voltooi.
Toe kom die seisoen van gesin. Ek trou, en ons word geseën met vier kinders. In September 2022 verloor ek my ma – nie aan die dood nie, maar aan ’n breinsiekte wat geen dokter tot vandag toe kan verklaar nie. ’n Jaar later word my dogtertjie gebore – sy wat soos my ma lyk, met dieselfde potblou oë. Met vier klein kinders kon ek nie voluit rou nie. Ek het gehuil, maar ek wou nie ’n afwesige mamma wees nie.
In Oos-Londen het ek ’n plek ontdek genaamd “Hart Space”. Daar het ek vir die eerste keer olie-verf en ’n kwas opgetel. Weer Afrika. Weer kinders. Die konstantes in al my wandelpaaie. Met elke kwashaal het iets in my begin herstel – asof my brein en hart weer leer voel het. Ek kon huil. Ek kon lag. Oor twee jaar het kuns my gedra deur die verlies van my ma – die mooiste vrou, die sagste mamma, met die mooiste blou oë.
Sy word nou voltyds in George versorg. Ek kan haar gaan sien, maar elke besoek bring die rou weer terug. Lang rou is iets wat ek vir niemand gun nie. As dit nie vir die Here en vir kuns was nie – veral vir die Here – sou ek nie geweet het hoe om hierdie pad te stap nie. Hy dra my, my pa, my broer, my ouma van 94, my tannie, en al my ma se vriendinne deur hierdie verlies.
En toe stap ek een dag in by ’n klein kunsgroepie hier in George – die 50+ tannies.Hulle het iets in my wakker gemaak wat lank geslaap het.Maar dit is ’n storie vir die volgende deel.


Comments